KZN-vrou in hegtenis vir verkoop van huis van R2,2 miljoen wat nie hare is nie

Deel hierdie storie / Share this story

’n 54-jarige vrou van KwaZulu-Natal is deur polisiebeamptes in hegtenis geneem vir die verkoop van ’n eiendom wat nie aan haar behoort het nie.

Volgens SAUKnuus het die vrou ‘n huis wat aan die departement van openbare werke behoort het vir net meer as R2 miljoen rand aan ‘n niksvermoedende man verkoop.

“Sy het na bewering die klaer wat op soek was na ‘n eiendom gelok om te koop. Die klaer het toe glo R2,2 miljoen vir die eiendom betaal,” het polisiewoordvoerder, kaptein Simphiwe Mhlongo, gesê.

Terwyl dit aanvanklik gelyk het of haar plan gewerk het, het dinge gou ‘n wending geneem nadat die man gesien het daar word by die huis gebou.

Nadat hy ‘n navraag gedoen het, het hy gehoor dat die huis in werklikheid staatseiendom is.

Hy het die saak vinnig by die plaaslike polisiestasie aangemeld en die vrou is kort daarna in hegtenis geneem.

Volgens woordvoerder Mhlongo sal nog arrestasies na verwagting binnekort gemaak word.

Intussen is die 54-jarige vrou van bedrog aangekla en sal na verwagting voor die Durbanse Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof verskyn.

Bronne: MSN, Briefly

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.

Lees ook: Drie kinders sterf na eet van vleis met rotgif