Nege verdagtes sal na verwagting Maandag in die Wynberg-landdroshof verskyn ná die boendoe-aanval wat verlede week in Parkwood plaasgevind het.
Die polisie het bevestig hulle het nege mense in hegtenis geneem.
Provinsiale polisiewoordvoerder, ao Joseph Swartbooi, het bevestig die groep is op aanklag van moord aangehou.
“Neem asseblief kennis nege verdagtes is gearresteer en aangehou op aanklagte van moord en roof met ‘n ander wapen as ‘n vuurwapen. Die verdagtes sal na verwagting Maandag 6 Junie ‘n hofverskyning in die Wynberg-landdroshof op die genoemde aanklagte maak,” het Swartbooi gesê .
Inwoners in die omgewing het die naweek ’n waak vir die slagoffer gehou.
Inwoners in die area het kerse aangesteek en om vergifnis gevra nadat dit aan die lig gekom het die slagoffer was in werklikheid ‘n onskuldige man.
Abongile Mafalala (31) van Dunoon is wreed en in die openbaar vermoor nadat vals bewerings van beweerde ontvoering in die gebied ontstaan het.
Honderde inwoners het uitgekom, die ongeïdentifiseerde man amper doodgeslaan en hom en sy voertuig toe op die oop veld langs die M5 aan die brand gesteek.
Sosiale media is oorval met grafiese video’s van die slagoffer Mafalala wat geslaan en aan die brand gesteek word.
Dit het later aan die lig gekom dat Mafalala onskuldig was en die verslae van ‘n beweerde ontvoering was vals.
Mafalala was in werklikheid ‘n slagoffer van ‘n misdaad en is oomblikke voor sy wrede moord deur bende-lede beroof.
Bronne: IOL, MSN, News365
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.
Lees ook: Fopnuus het tot onskuldige man se dood gelei, sê die polisie



