Skietvoorval in Spur: Ernst Roets praat met FiND iT

Deel hierdie storie / Share this story

“Net toe ons klaar betaal het en na die deur toe stap om huis toe te gaan, het ‘n gewapende bende die plek binnegedring en mense begin beroof.”

Só vertel Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum oor die skietery wat Sondagaand by die Lifestyle Center Spur in Centurion uitgebreek het.

Roets en sy vrou, Lelanie, saam met hul vier seuns, was daar om hul oudste seun, Ernst, se tiende verjaarsdag te vier.

Volgens Roets was daar ‘n polisieman wat sy wapen by hom gehad het en ‘n skietery het uitgebreek.

“Een van die aanvallers is doodgeskiet. Na ‘n geskietery – ek kon nie tel hoeveel skote nie – het die ander gevlug. Ons is ongeskonde en sover ek weet, is niemand anders beseer nie.”

Roets sê hy en sy gesin het dadelik traumaberading gekry en onder die omstandighede gaan dit goed met hulle.

“Dankie vir al die boodskappe. Dit is ‘n groot seën en voorreg om deel te wees van ‘n gemeenskap wat soveel vir mekaar omgee wanneer teëspoed tref.”