Vrywilligers span saam om Upingtonse seuntjie op te spoor

Deel hierdie storie / Share this story

“Soveel seer op die gesigte van die gemeenskap van Louisvale. Soveel vrae. Waar kan jy wees, Boeta? Soveel onsekerheid. Dag vyf en steeds geen teken van jou.”

Vrywilligers en die polisie sit vanoggend die soektog na die vermiste 5-jarige Le-Virno van Wyk voort.

Le-Virno, van Louisvaleweg op Upington, is sedert Dinsdag vermis. Hy het nooit na skool teruggekeer huis toe nie.

Die Care For You Foundation, ‘n liefdadigheidsorganisasie op Upington, het gister besluit om die gemeenskap en vrywilligers wat help om na Le-Virno te soek, te ondersteun deur iets te ete en te drinke vir hulle beskikbaar te stel.

Prudence Duiker, die stigter van Care For You, sê hulle is vandag weer op die toneel en is besig om reëlings te tref om die betrokke persone weer vandag te help.

Sy sê daar is heelwat mense wat soek en dat daar ook ‘n paar lede van haar organisasie is wat help soek.

“Ons soek maar hier in die Louisvaleweg-omgewing rondom die treinspoor. Die polisie is ook op die toneel.”