‘Ek betaal vir my fout,’ sê kletsrymer na hy helfte van sy skedel verloor

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Kletsrymer wat helfte van sy skedel tydens ‘n fratsongeluk verloor het, sê hy “betaal nou vir sy fout”

Niko Brenner, ‘n Duitser, het kannabis-olie gekook toe bottels ontplof het weens ‘n vonk wat deur sy yskas veroorsaak is. Brenner is deur die venster van sy woonstel geslinger en sy kop is so ernstig beseer dat dokters die helfte van sy skedel moes verwyder weens swelling op sy brein.

Sedert die ongeluk wat in Februarie 2017 plaasgevind het, het hy al verskeie operasies ondergaan en vier beroertes gehad, wat hom verlam aan een kant gelaat het.

“40% van die oppervlak van my vel is verbrand,” sê die 37-jarige. “Ek het al byna 50 operasies ondergaan.”

Brenner, wat musiek maak onder die naam dr. Knarf, het ‘n sesjarige seun en hy sê dis moeilik vir hom om te aanvaar hoe die ongeluk sy seun se lewe sal beïnvloed.

Hy onthou die eerste keer wat hy homself na die ongeluk gesien het. “Dit was ‘n absolute skok. Ek het soos ‘n monster gelyk. En my seun was toe een jaar oud. Ek was vreesbevange dat hy my nie eers sou erken nie.”

“Dit breek my hart dat ek nooit saam met hom sal kan boomklim nie.”

Niko sê dis teoreties onmoontlik om sy skedel met ‘n inplant te rekonstrueer.

“Ek het ‘n reuse fout gemaak, dit het my hele lewe verander – en ek betaal nou daarvoor.”

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.