Vullistrok val in sinkgat in Carletonville

Deel hierdie storie / Share this story

Die Merafong- plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville, Wedela) se onvermoë om die sinkgate wat gereeld voorkom te rehabiliteer, stel lewens en eiendom in gevaar. So sê Ben van der Berg, VF Plus-raadslid, na ‘n vullistrok in ‘n sinkgat in Carletonville geval het.

ʼn Klein sinkgat het twee maande gelede ook ingeval waarna die munisipaliteit die gebied afgesper en ʼn vrag grond 15 meter voor die gat gegooi het om te voorkom dat water daarin vloei.

“Merafong het sy onderneming om die sinkgat te rehabiliteer, nie nagekom nie,” sê Van der Berg.

“Die sinkgat het intussen vergroot nadat ʼn vullistrok daarin beland het.

“Die VF Plus het reeds twee jaar gelede die munisipaliteit gevra om dadelik met die rehabilitasie van sinkgate te begin. Daar is ook gevra om die rioolinfrastruktuur te herstel en op te gradeer, aangesien riool in die sinkgate lek en die probleem vererger.

“Rioollekkasies kalf die wande van die sinkgate uit en beland in die ondergrondse watertafel wat die vorming van sinkgate kan aanhelp soos in gedeeltes van Khutsong wat op dolomitiese grond geleë is.

“Sedertdien is vyftien sinkgate in Khutsong opgemerk en die munisipaliteit moes 200 gesinne wat in HOP-huise gewoon het, hervestig nadat sinkgate onder en langs hul huise gevorm het.”

Die munisipaliteit het ʼn bedrag van R118 miljoen en ʼn verdere R49 miljoen van die Gauteng-provinsie ontvang vir die rehabilitasie van sinkgate in die gebied. Van die sinkgate is egter net met klip opgevul en geen verdere rehabilitasie of opgradering van infrastruktuur het plaasgevind nie.

“Die ANC-beheerde Merafong-munisipaliteit word al vir jare wanbestuur en fondse word nie reg aangewend nie,” sê hy. “Die infrastruktuur is substandaard en die munisipaliteit sukkel om basiese dienste te lewer.”

“Die VF Plus gaan sy druk op die munisipaliteit vergroot om sinkgate behoorlik te rehabiliteer en antwoorde te verskaf oor hoe en waar die geld aangewend is.

“Die party sal ook die provinsiale wetgewer vra om na vore te tree om die situasie te bestuur.”