Die gewilde Afrikaanse sanger, Bobby van Jaarsveld, het vir ‘n rukkie die verhoog verruil en agter die kamera ingeskuif vir die nuwe seisoen van die sepie Spoorloos.
Van jaarsveld het Maandagmiddag die nuus op sy Instagram-blad gedeel en gesê dat hy al lank wag vir die tipe rol.
Van Jaarsveld sal die rol van Stefan Claassen vertolk.
“Soos met die vorige seisoene, is Spoorloos: Die eiland ’n losstaande spanningsverhaal met nuwe karakters en ’n nuwe storielyn. In die jongste seisoen word ’n avontuurlustige argitek, Stefan Claassen, se lewe in chaos gedompel wanneer ’n toevallige ontmoeting met sy lang verlore liefde nie net sy gevoelens vir haar opnuut laat opvlam nie, maar hom in ’n web van bedrog intrek wanneer sy vermis raak,” lui ‘n verklaring deur kykNet.
“Ek is so ongelooflik opgewonde hieroor. Dis die eerste keer dat ek so ’n ernstige rol vertolk,” sê Bobby. “Dis vir my ’n groot voorreg om deel van die produksie te kon wees – Spoorloos se kwaliteit is next level.”
“Die akteur en regisseur Christo Davids is terug in die regisseurstoel saam met Francois Coetzee. “Ons glo kykers gaan hierdie nuwe Spoorloos net so baie as die voriges geniet. Daar is niks so lekker soos om ’n land te laat wonder en aan die raai te hou nie,” sê Van Jaarsveld.
Spoorloos: Die eiland begin op Dinsdag 19 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Catch Up beskikbaar wees. Dié seisoen bestaan uit agt episodes.




