Baba huilend op vermoorde ma se liggaam gevind

Deel hierdie storie / Share this story

Volgens inligting deur CERT-SA het ‘n plaaslike inwoner ‘n geluid wat soos ‘n geweerskoot geklink het naby sy huis gehoor. Toe hulle gaan ondersoek instel, kon hulle ‘n baba in die gras langs die pad hoor huil.

“By verdere ondersoek het hulle ‘n gruweltoneel gevind met ‘n baba wat bo-op sy ma in die gras langs die pad gelê het. Inwoners het dadelik die plaaslike veiligheidsmaatskappy per WhatsApp vir bystand op ‘n gemeenskapsnoodgroep ontbied. Met aankoms het ons ‘n veiligheidsreaksievoertuig wat langs ‘n grondpad stilstaan, net langs die R114 naby Laezonia gevind,” volgens CERT-SA-woordvoerder, Ruan Heyns.

Met CERT-SA se aankoms op die toneel is hulle vinnig na die plek geneem waar die lewelose liggaam van ‘n vrou in haar laat 20’s gelê het. Hulle het haar seuntjie gekry waar hy op haar bors lê en huil.

Heyns sê die baba is vinnig vir tekens van besering geassesseer, aangesien daar bloedvlekke aan sy hande was.

Heyns het gesê die baba is nie in die voorval beseer nie en was net koud omdat hy ‘n geruime tyd buite gelê het.

Die baba is warm gehou en ‘n reëling is getref dat hy na ‘n plek van veiligheid geneem word.

Die ma is ongelukkig met hulle aankoms dood gevind. Sy het ‘n sigbare skietwond aan haar bors gehad.

Die polisie is na die toneel ontbied en het ‘n ondersoek geopen.

Bronne: MSN, Sowetan LIVE

Volg FiND iT hier.

Lees ook: Cyril Ramaphosa deur kuberkrakers geteiken