Die minister van samewerkende regering, Nkosazana Dlamini-Zuma, het gesê grond wat nie vir rampe vatbaar is nie, moet aan die KwaZulu-Natalse vloedslagoffers toegeken word.
Dlamini-Zuma het Sondag in Durban met joernaliste gepraat, ‘n paar minute nadat regeringsamptenare ‘n vragvliegtuig van die staat Katar verwelkom het, wat humanitêre hulp vir die vloedgeteisterde provinsie vervoer het.
KwaZulu-Natal is twee keer in minder as twee maande deur vloede getref, wat infrastruktuur ter waarde van biljoene rande vernietig het.
Terwyl die Arabiese staat broodnodige hulp vir KwaZulu-Natal geskenk het, het die minister gesê dat mense nie vir altyd in skuilings gehou sal word nie en van goeie behuising voorsien moet word.
Duisende mense word steeds by gemeenskapsale en skuilings in verskeie dele van die provinsie gehuisves nadat die verwoestende vloede hulle behoeftig gelaat het.
Dlamini-Zuma het gesê die regering moet nou soek na grond wat nie ‘n rampgevaar is nie.
Sy het gewaarsku dat klimaatsverandering nog ‘n ramp vir Suid-Afrika gaan skep en die land moet gereed wees.
“Ons weet dat Suid-Afrika weens klimaatsverandering rofweg in twee verdeel sal word – die oostelike deel sal natter wees met meer gereelde vloede terwyl die westelike deel droër sal wees met gereelde droogtes. So, ons moet ons daarvoor voorberei,” het minister Dlamini-Zuma gesê.
Heropboupogings word nou in dele van die provinsie hervat ná die vloede.
Bronne: IAfrica, MSN
Volg FiND iT hier.
Lees ook: Voormalige burgemeester van KZN vermis, nadat hy glo in plaasaanval geteiken is



