Baba sonder diagnose benodig hulp

Deel hierdie storie / Share this story

“Ons kom vandag met ‘n swaar hart na julle toe en vra vir hulp, donasies en gebed vir ons babaseuntjie wat tans in die hospitaal is,” pleit Hennie Pitout (28) en Christie Basson (24), ouers van baba Hennie.

Nadat die twee maande oue Hennie op 20 Mei nie asem kon kry as gevolg van slym wat opgebou het, het Christie met hom na ‘n hospitaal in Bloemfontein gehaas.

Hennie is per ambulans na ‘n staatshospitaal geneem waar bloedtoetse, ‘n lumbale punksie en X-strale geneem is.

Volgens Christie het een van die dokters gesê Hennie het longinfeksie het en nadat hy daarvoor behandel is, het ‘n ander dokter hul die volgende dag meegedeel dat Hennie nie infeksie in sy longe het nie, maar wel hartprobleme. Volgens die dokter is die aar wat na sy longe toe gaan, vernou.

Die paartjie is na ‘n hospitaal verwys waar daar na Hennie se hart gekyk is, maar volgens Christie kon die dokters geen fout vind nie en Hennie is huis toe gestuur.

By die huis gekom, het baba Hennie steeds gesukkel om asem te haal. Christie het die dokter gebel, maar die hospitaal wou hul nie sonder ‘n verwysing help nie en omdat hulle nie ‘n mediese fonds het nie, kon hulle nie na ‘n privaat hopsitaal gaan nie.

Hul enigste opsie was om terug te gaan na die staatshospitaal.

Hennie is die afgelope vyf dae weer op suurstof omdat hy te swak is om te drink. Volgens sy ma het Hennie sepsis, anemie, kinkhoes, bloedinfeksie en ‘n breuk .

“In dié stadium het elke dokter ‘n verskillende opinie en diagnose. Niemand weet wat fout is met ons baba nie omdat die bloedtoetse en X-strale nie ooreenstem nie. Al wat hulle wel kan sê, is dat hy bloedinfeksie het wat moontlik na sy longe gegaan het. Ons voel hulpeloos.

“Die dokters los ons met swaar, seer en moedelose harte. Hulle behandel ons klein lyfie vir goed waaroor hulle self nie seker is nie. Hy kort professionele hulp sodat hy reg gediagnoseer kan word en daarvoor behandel kan word.

Ons is raadop en baie bekommerd oor ons seuntjie.

“Ons wil net hê hy moet gesond word, daarom vra ons hulp sodat ons hom by Rosepark-hopsitaal kan laat opneem.”

Enigiemand wat graag die paartjie wil help, kan Christie kontak by 067 746 3099.