Die Griekwaland-Wes-skeidsregtersvereniging (GWSV) is in ’n penarie gedompel nadat die unie se skeidsregters uit vrees vir hulle lewe nie verder by die spel van rugby betrokke wil wees nie.
Video: Die afgelope Saterdag was beslis ’n laagtepunt in Griekwa-rugby toe drie toeskouers en die hulpafrigter – wie se name aan FiND iT bekend is – na afloop van die Daniëlskuil vs. Kathu 0/15 wedstryd reg in eie hande geneem het deur die skeidsregter, Christo Kemp, fisiek aan te rand en selfs na hom verwys as ’n rassis.
Verskeie skeidsregters het hulle fluitjies opgehang na ernstige insidente waartydens hulle lewens bedreig is.
Plaaslike toeskouers in die Noord-Kaap weet blykbaar meer van die spel se reëls as die man met die fluitjie. Indien die skeidsregter dúrf om ’n fout te begaan, kan hy met sy lewe boet.
In meer as vier voorvalle in die laaste twee maande, is skeidsregters verbaal, fisies of beide by verskeie wedstryde in die streek aangerand. Dit terwyl GWSV anderpad gekyk het.
Skole en klubs is volgens GWSV alleen aanspreeklik vir spelers, toeskouers en skeidsregters se veiligheid.
Voorste skeidsregter gee liefde vir spel op
Die Kimberley-rugbyklub was op 16 Februarie 2022 die eerste klub wat hom daaraan skuldig gemaak het deur een van die Kimberley se voorste skeidsregters, Francois du Bruin, verbaal aan te rand.
Die voorval het sodanig handuitgeruk dat die toeskouer, wat bekend is aan FiND iT, Du Bruin na die kleedkamer gevolg het en die mondelingse takeling voorgesit het. Die teistering het egter nie daar gestop nie. Du Bruin was op 16 Februarie 2022 skriftelik deur die GWSV in kennis gestel dat hy dissiplinêr verhoor gaan word en sou hy skuldig bevind word, mag hy dalk nooit weer blaas nie. Die saak is later buite die raadsale van GWSV geskik. Nie die klub of die Griekwa-rugbyunie het teenoor die betrokke toeskouer opgetree nie.
Du Bruin het intussen sy fluitjie vir goed weggebêre nadat insidente net té persoonlik geraak het, sê De Bruin.
Nog ’n skeidsregter met vuiste toegetakel – en met handpistool gedreig
Tydens ’n wedstryd wat tussen Bloemfontein-polisie en Sishen op Kimberley-rugbyklub se veld plaasgevind het, was die teistering só drasties dat ’n skeidsregter fisies met die vuiste toegetakel is en later met ’n handpistool gedreig is om sy lewe te verloor. Hennie Mitton, lynregter van die Kimberleystreek wat by die voorval betrokke was, wou nie hieroor kommentaar lewer nie. ’n Saak van rig van vuurwapen is wel by die polisie in Kimberley geopen.
Derde aanval op derde skeidsregter
Op 21 Mei 2022 was Angelo Cammies die skeidsregter in beheer van die 0/15 wedstryd tussen Hoërskool Noord-Kaap en Duineveld. Na afloop van die wedstryd het Noord-Kaap se afrigter, Morné Marolong, geglo hy ken die reëls beter en dit nodig gevind om Cammies voor die bors te gryp.
Noord-Kaap se hoof van rugby, Deon Carney, het skriftelik om verskoning gevra en Marolong is vir die res van die kwartaal uit alle wedstryde geskors. Niks anders het van die saak gekom nie.
Vierde laagtepunt
Die afgelope Saterdag was beslis ’n laagtepunt in Griekwa-rugby toe drie toeskouers en die hulpafrigter – wie se name aan FiND iT bekend is – na afloop van die Daniëlskuil vs. Kathu 0/15 wedstryd reg in eie hande geneem het deur die skeidsregter, Christo Kemp, fisiek aan te rand en selfs na hom verwys het as ’n rassis.
Op die video is dit duidelik indien ander amptenare en selfs skoolkinders nie tussenbeide getree het nie, sou Kemp heel waarskynlik met sy lewe geboet het. Fires van Vuuren, nog ’n skeidsregter, is ook fisiek aangerand nadat hy tussenbeide getree het om Kemp te beskerm .
Een van Kemp se aanvallers was glo ’n leerling in sy registerklas.
’n Omstander, wat direk by die voorval betrokke was en uit vrees vir sy lewe anoniem kommentaar lewer, het aan FiND iT bevestig dat die skeidsregter tans vir sy veiligheid vrees en dreigoproepe kry. Die saak is by die Daniëlskuil-polisie aangemeld.
Kat Swanepoel, bestuurder van die GWSV het aan FiND iT bevestig dat al die voorvalle wel aan die unie bekend is en hulle tans wag vir terugvoer vanaf die onderskeie klubs en skole.
Alhoewel die GWSV die voorvalle as ’n laagtepunt beskou, was daar tot op hede nog geen optrede van die unie se kant af nie. Swanepoel het wel bevestig dat ’n interne skrywe binnekort aan skole en klubs gerig sal word om wel strenger op te tree.
GWSV se skeidsregters stem almal saam hulle doen dit vir die liefde van die saak en word R100 vir ’n skoolwedstryd en R200 vir ’n klubwedstryd betaal.



