Dis nie elke dag wat iemand deur een van die grootste speelgoedmaatskappye in die wêreld vereer word met ‘n pop wat soos hy of sy lyk nie.
Aktrise en LGBTQIA+-aktivis Laverne Cox is die eerste transgender vrou ooit om op hierdie manier vereer te word.
Cox, wat bekend is vir haar rol in die reeks Orange Is The New Black, het verskeie Emmy-toekennings gewen.
Sy vertel sy was as kind verneder omdat sy met Barbie-poppe wou speel.
“Ek het uitgegaan en ek het vir myself ‘n Barbie-pop gekoop en met haar gespeel en haar aangetrek – en dit was die manier om my innerlike kind te genees.”
Die speelgoedmaatskappy Mattel vier nou Cox se bydrae tot die LGBTQIA+-gemeenskap en het ‘n pop spesiaal vir Cox vervaardig.
Die pop dra ‘n rooi balrok met ‘n romp wat in verskillende uitrustings verander kan word. Die aktivis sê sy hoop dat dié pop kinders sal inspireer en ouers sal herinner daaraan om hulle kinders te ondersteun, ongeag van hulle geslagsidentiteit.



