Kortrib-en-rooiwynbredie

Deel hierdie storie / Share this story

Ons vier vandag Internasionale Wyndag en daarom deel ons dié heerlike resep vir kortrib-en-rooiwynbredie van kykNET met jou.

Lees ook: Heerlike melkkos met kondensmelk vir die koue

1 kg bees kortrib in groterige blokke gesny
100 g spek klein gesny
1 groot ui geskil en klein gekap
2 huisies knoffel geskil en in die helfte gesny
4 groot wortels geskil en in groot stukke gesny
1 e tamatiepasta
500 ml rooiwyn
300 ml beesaftreksel
100 ml Jimmy’s sous
sout vir smaak
swart peper vir smaak
5 e koekmeel
4 e olyfolie
Italiaanse pietersielie vir smaak
Six gun-speserye vir smaak

Metode:

Geur die meel met ’n kwart teelepel sout en ’n draaitjie peper. Dompel die vleis daarin en skud die oortollige meel af.
Verhit ’n pan tot warm, voeg olyfolie by en braai die vleis tot goudbruin (moenie alles op een slag braai nie, die temperatuur val te veel en die spulletjie begin stoom – ’n grys, waterige gemors waarvan jy nie eintlik kan herstel nie).

Verwyder die vleis en sit dit in ’n platboompot met ’n deksel. Braai nou die uie en spek in die pan waarin jy die vleis gebraai het. Sodra die uie lig goudbruin is, voeg een eetlepel meel by en braai vir ’n minuut. Voeg dan die tamatiepasta en knoffel by en braai vir ’n minuut.
Gooi nou die rooiwyn by en kook vir nog ’n minuut. Maak seker dat jy met al die gebraai en geroer al die wonderlike gekaramelliseerde aanbrandsel op die bodem van die pan lekker los wriemel. Dis pure geur.

Voeg nou die wortels, Jimmy’s sous, vleisaftreksel en ʼn kwart teelepel swart peper by. Gooi dit oor die vleis, geur met Six gun-speserye, bedek en kook oor medium kole vir drie ure. Loer so af en toe of hy bietjie water nodig het. Sodra die vleis wonderlik sag is, is hy reg. Proe of hy nog sout nodig het en strooi ‘n groot handvol grofgekapte pietersielie oor.
Perfek saam met kapokaartappels.

Foto: kykNET