’n Mosambiekse vragmotorbestuurder wat ’n gru-ongeluk veroorsaak het wat gelei het tot die dood van 18 mense in Machadodorp, Mpumalanga, is tot agt jaar tronkstraf gevonnis, waarvan vyf jaar vir vier jaar opgeskort is.
Dit beteken in werklikheid dat Sebastian Macaucau drie jaar agter tralies sal dien.
Die streekhof op Middelburg het Macaucau gevonnis ná ‘n lang verhoor waarin die staat hom op die deskundige getuienisse van twee ongelukondersoekers van die Padverkeersbestuurskorporasie beroep het.
Die verdediging het ‘n meganiese ingenieur versoek om getuienis te lewer ter verdediging van die beskuldigde.
Die ongeluk het in Julie 2017 plaasgevind toe die vragmotor wat deur Macaucau bestuur is, reg van voor met twee minibustaxi’s op die R541 net buite Machadodorp gebots het.
Die botsing het gebeur toe die bestuurder van die vragmotor die middellyn oorgesteek het en teen die twee minibusvoertuie wat in die teenoorgestelde rigting gery het, vasgery het.
Agtien mense is dood en 10 is ernstig beseer. Macaucau, wat geen beserings opgedoen het nie, is op die toneel in hegtenis geneem en daarna van strafbare manslag aangekla.
Die Padverkeersbestuurskorporasie het ‘n verklaring uitgereik waarin hulle sê ‘n strenger vonnis moes opgelê gewees het.
Bronne: Times LIVE, IOL
Volg FiND iT hier.
Lees ook: CCMA-beslissing gee werkgewer gelyk in verpligte inentingsbeleid-afleggingsaak



