Nuwe foto’s vrygestel in hoop om vermiste onderwyseres op te spoor

Deel hierdie storie / Share this story

Die polisie het twee dae gelede nuwe foto’s beskikbaar gestel in die hoop dat die foto’s sal lei tot nuwe inligting om die vermiste Duitse onderwyseres van Gqeberha, Sylvia Wittal, op te spoor.

Die polisie doen ook ‘n ernstige beroep op die gemeenskap om met enige inligting na vore te kom.

Die laaste keer wat enigeen met Wittal kontak gehad het, was op 30 Desember 2021, toe haar kêrel Kevin Crouse met haar oor die telefoon gepraat het.

Wittal is op 2 Januarie as vermis aangemeld toe haar silwer KIA verlate in Sacramento in Schoenmakerskop gevind is. Die polisie sê haar motor het na bewering vir twee dae daar gestaan.

Die nuwe inligting wat die polisie nou bekendmaak, is dat Wittal by die huis weg is met ‘n rugsak met die woorde “Iron Kids”daarop. Die polisie kon ook vasstel dat sy moontlik haar ouma se as, in ‘n klein houertjie met blomme op, saam met haar geeem het.

Sy het ook ‘n herkenbare tatoeëermerk op haar regterarm.

Enigeen met inligting kan die polisie by 073 130 3018 kontak.