Bekende skrywer, SPU-dosent, beroof

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Nuut-aangestelde senior lektor vir kreatiewe skryfwerk aan die Sol Plaatje-universiteit, dr. Lebogang Lance Nawa, ‘n bekende skrywer, digter en sekretaris-generaal van die Nasionale Skrywersvereniging van Suid-Afrika, is van waardevolle besittings beroof nadat daar by sy woonstel ingebreek is.

Nawa gee tot 31 Julie lesings in Kimberley.

Hy het gesê die voorval het Vrydagoggend plaasgevind terwyl hy lesings by die universiteit gegee het.

“Ek bly ‘n paar minute van die universiteit af en ek het omstreeks 16:00 by die huis aangekom en opgemerk dat my iPad, kamera, lense, bevrore vleis, toiletware en pantoffels gesteel is. Daar was blykbaar geen tekens van gedwonge toegang nie. Ek kom van Pretoria af en het nog nooit so iets beleef nie,” het Nawa gesê.

Hy het bygevoeg dat hy as ‘n voormalige joernalis by die Weekly Mail “briljante” beelde op sy kamera verloor het. “Ek het nog nie versekering op my toerusting uitgeneem nie. Die iPad behoort aan die Staatsteaterraad. Die verdagte het selfs my tandeborsel en tandepasta, ‘n pakkie suiker en vleis gevat en homself aan ‘n geroosterde hoender gehelp. Dit wil voorkom asof die inbreker gesteur is toe hy die ketel wat hy gesteel het op pad uit laat val het.”

Nawa het gesê met die aanmelding van die saak by die polisiestasie is geen saak geopen nie. “Ek is ingelig dat die vingerafdrukeenheid nie oor naweke werk nie en is aangesê om huis toe te gaan, maar om aan niks te raak nie. Ek is aangesê om die polisie te bel as niemand uitkom nie. Nadat ek ure op die 10111-noodlynfoon deurgebring het, is my oproepe deur antwoordmasjiene beantwoord – ek het uiteindelik een beampte in die hande gekry wat gesê het sy was verbaas hoekom kollegas my verkeerd aangeraai het, aangesien die betrokke eenheid nie snags werk nie. Ek is aangesê om te gaan slaap.”

Hy het bygevoeg dat ‘n saak uiteindelik op 14 Mei geopen is, hoewel niemand die saak tot Sondag kom ondersoek het nie.

“Ek het ’n saaknommer nodig om die Staatsteaterraad in kennis te stel, aangesien die iPad geklassifiseerde inligting bevat.” Nawa het aangedui dat vingerafdrukke uiteindelik Sondag geneem is.

“Dit was hoogs ongerieflik, aangesien ek nie kon opruim vir ingeval vingerafdrukke versteur word nie.”

Polisiewoordvoerder, sers .Dikeledi Gopane, het gesê die saak word ondersoek. “Geen arrestasies is nog gemaak nie.”

Bronne: DFA, MSN

Volg FiND iT hier.

Lees ook: Fase 3-beurtkrag vir Maandag en Dinsdag