“As jou wêreld verander, maak ek die res aanpas vir jou…” Dit is die woorde van Ryno Mulder, klein Mienke Mulder se pa, se woorde na sy vrou, Verna, met ‘n aggressiewe borskanker gediagnoseer is.
Mienke se ma het in April vanjaar haar eerste sessie chemoterapie ondergaan na sy met borskanker gediagnoseer is.
Klein Mienke het as babadogtertjie in 2017 aan melk by ‘n kleuterskool verstik en opgehou asemhaal. Sy het breinskade weens die verstikking opgedoen en was serebraal gestrem. Sy kon nie self eet, loop sit of praat nie en is in 2020 oorlede.
Haar ouers het op die Facebook-blad Please Pray for Mienke duisende volgelinge op hoogte gehou van Mienke se storie.
Op 12 April het Ryno die nuus van Verna se diagnose bekendgemaak en nes die ondersteuning destyds vir Mienke ingestroom het, ondersteun SA’ners nou vir Verna.
Ryno het vyf dae gelede geskryf: “Vir dae lank hou ek jou (Verna) fyn dop. In my geestesoog verbaas jy my by die sekond, want ek sien jou vlammetjie brand sterk.” Die plasing is gemaak met ‘n foto van Verna waar van haar hare begin uitval weens die chemoterapie.
“Ek voel jammer vir jou hare, want hulle gaan nie meer saam met die beste vrou in die wêreld wees nie, maar ons weet dis net tydelik en ek bespreek sommer nou al vir jou ‘n plekkie by jou gunsteling salon!”
Ryno het besluit om sy ondersteuning vir sy vrou te wys deur ook sy hare af te skeer. Hy het die video op sy Facebook-profiel en ook die ondersteuningsgroep geplaas.
“#breastcancerawareness #virjoumyengel #vernachallenge #showsupport” is die hutsmerke wat hy gebruik het.



