‘n Vrou is vandag by die Indian Centre in Kimberley in hegtenis geneem terwyl sy glo besig was om ‘n agent, wat hom as ‘n huurmoordenaar voorgedoen het, te vra om haar man te ontvoer en te vermoor.
Kapt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoerder, het aan FiND iT bevestig die polisie het dié week inligting bymekaargemaak vir die “onderhandeling” om vandag plaas te vind.
“Die vrou wou na bewering hê die huurmoordenaar moes haar man ontvoer en vermoor en het belowe om hom ‘n sekere bedrag geld te betaal ná die moord,” sê kapt. Tawana.
Die vrou is tydens die onderhandeling in hegtenis geneem.
Sy verskyn na verwagting Maandag 16 Mei in die Kimberley-landdroshof.



