Dringende fondse benodig vir seun wat femur in rugbywedstryd breek

Daar word nou dringend fondse benodig om die 17-jarige Jonathan Barnard te help om ‘n nodige operasie te ondergaan. Die ywerige rugbyspeler van Hoërskool Fichardtpark het tydens ‘n skool-rugbywedstryd sy bobeen gebreek toe ander spelers bo-op hom geval het.

Sy ma, Marisa Barnard, het in ‘n onderhoud met FiND iT gesê sy het Saterdag ‘n oproep gekry dat Jonathan tydens die wedstryd beseer is.

Hy is per ambulans na die Pelonomi-hospitaal geneem waar hy nou nog opgeneem is.

“Soos wat hy vir my vertel het, was hy ‘getackle’ en toe het van die spelers bo-op hom geval. Hy het sy been hoor breek,” vertel Marisa.

Marisa sê van die privaatdokters met wie sy gepraat het, sê Jonathan moet staalpenne in sy been kry.

Sy sê die operasie is ook baie gevaarlik omdat die beenmurg kan lek en die operasie baie na aan sy slagaar gedoen moet word.

“Die waglys by Pelonomi is ook baie vol en die dokters kommunikeer nie regtig met ons oor wat vorentoe moet gebeur nie.”

Marisa vertel die privaathospitale met wie sy gepraat het, sê sy moet ‘n bedrag van R300 000 neersit voor haar seun opgeneem kan word. “En ons weet nie eers wat presies daardie R300 000 alles sal dek nie.”

Hoërskool Fichardtpark het intussen besluit om ‘n fondsinsameling te begin om so gou moontlik die nodige hulp vir Jonathan te kry.

Werner Pretorius, Jonathan se afrigter, sê hulle het gesien daar is ‘n kind in nood en wou graag help.

“As ma sal ek dit regtig waardeer as ons die geld betyds ingesamel kan kry. Ek het dié week afgevat by die werk en ek is ‘n senuweewrak. Ek mag nie snags by die hospitaal sit nie en ek slaap niks in die aande nie.”

Sy sê Jonathan is rustig en dat hulle dinge stap vir stap sal vat.

Indien jy ‘n bydrae wil lewer om Jonathan by ‘n privaathospitaal te kry en om vir die operasie te kan betaal, hier volg Hoërskool Fichardtpark se bankbesonderhede.

Naam van rekening: Hoërskool Fichardtpark
Bank: Standard Bank
Takkode: 051001
Rekening Nommer: 041295781
Tipe Rekening: Lopende Rekening
Verwysing: JB 001

Leave a Reply

Your email address will not be published.