Taxi-operateurs jaag roubeklaers weg wat op pad was na vermoorde busbestuurder se begrafnis

“Die polisie wou nie uitkom om te help nie,” het Ferreira gesê.

Taxi-operateurs jaag roubeklaers weg wat op pad is na vermoorde busbestuurder se begrafnis

Taxi-operateurs jaag roubeklaers weg wat op pad is na vermoorde busbestuurder se begrafnis foto: Herald LIVE

Taxi-operateurs het Vrydag familielede verhinder om die begrafnis van ‘n vermoorde Intercape-busbestuurder in die Oos-Kaap by te woon.

Bangikhaya Machana (35) is op 25 April buite die Intercape-depot in Kaapstad geskiet. Hy is drie dae later in die Tygerberg-hospitaal dood.

Intercape het ‘n bus verskaf om meer as 50 lede van die uitgebreide Machana-familie en vriende van Kaapstad na die bestuurder se tuisdorp, Idutywa, te neem, waar sy begrafnis Saterdag sou plaasvind.

Johann Ferreira, uitvoerende hoof van Intercape, het gesê toe die bus Idutywa binnery, is dit weggewys en moes dit na ‘n polisiestasie gaan om passasiers af te laai.

“Die taxi’s het hulle gevolg en een van ons bestuurders is die polisiestasie binne om hulp te kry. Die polisie wou nie uitkom om te help nie,” het Ferreira gesê.

In daardie stadium het die bus na Mthatha, meer as 80 km verder, vertrek weens “vrese vir die veiligheid en welstand van familielede”.

Die bus het uiteindelik Vrydagmiddag onder polisiebegeleiding na Idutywa teruggekeer nadat Intercape ‘n beroep gedoen het vir die ingryping van provinsiale bevelvoerders.

Ferreira het gesê: “Hierdie taxi-operateurs het absoluut geen skaamte nie, om ‘n bedroefde gesin te keer en te verhoed om hul tuisdorp te besoek om ‘n seun, man en pa te ruste te lê wat so wreed van hulle weggeneem is.”

’n Gedenkdiens vir Machana is Dinsdag by die maatskappy se depot in Airport Industria in Kaapstad gehou.

Die bestuurder laat ‘n vrou en twee dogters, onderskeidelik drie en ses jaar oud, agter.

Bronne: Herald LIVE, IOL

Volg FiND iT hier.

Lees ook: Hillary Gardee: Familie vra dat borgtog geweier word vir moordverdagtes

Leave a Reply

Your email address will not be published.