Die familie van die vermoorde Hillary Gardee en die EFF het ‘n beroep op die howe gedoen om borgtog te weier vir die drie mans wat in verband met die moord op Hillary in hegtenis geneem is.
Die drie sal vanoggend ‘n eerste verskyning in die Nelspruit-landdroshof in Mpumalanga maak.
Sinawo Tambo, nasionale woordvoerder van die EFF, wat ook as die familiewoordvoerder optree, het in gesprek met joernaliste buite die hof gesê die beskuldigdes moet borgtog geweier word.
“Die primêre boodskap wat ons wil kommunikeer, is dat hulle borgtog geweier moet word omdat hulle hulself as ‘n vlugrisiko ten toon gestel het. Hulle is almal gevang op die vlug óf aan’t wegkruip en ons het nodig dat die regbank leer en ‘n voorbeeld stel dat dit ferm is oor sake van geslagsgebaseerde geweld,” het Thambo gesê.
“Ons mense het vertroue in wetstoepassingsagentskappe verloor wanneer dit by sake van hierdie aard kom. ’n Weiering van borgtog sal vertroue inboesem by die mense wat in hul huise mishandel word – die moeders, dogters, oumas, stiefdogters, alle mense wat mishandel word, moet vertroue hê…”.
Hy het gesê ‘n borgtogaansoek deur die drie beskuldigdes sal ‘n geleentheid bied vir die regbank om vertroue in die oppergesag van die reg te herstel.
“Ons doen ’n beroep op die weiering van borgtog vir hierdie verdagtes sodat ons vertroue aan ons mense gee en ook verseker dat hulle nie van die betrokke saak vlug nie. Daar word vir ons gesê daar is nog verdagtes wat ondersoek word, mense van belang word direk met die misdaad verbind,” het hy gesê.
“Ons wil nie die terrein betree om die sosialemedia-berigte oor die name van die verdagtes en hul politieke affiliasies te betrek nie, ons wag vir die hofverskyning en ons sal ‘n verdere opdatering gee of die familie werklik enige bande het met hierdie individue.”
Die polisie in Mpumalanga het Sondag gesê nog twee verdagtes is in verband met die Hillary Gardee-moord vasgetrek.
Kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, het bevestig dat nog twee verdagtes in hegtenis geneem is, wat by die eerste verdagte gevoeg is.
Die twee bykomende verdagtes is tussen Saterdagaand en Sondag in die vroeë oggendure in Nelspruit in hegtenis geneem.
Die eerste verdagte, ‘n 39-jarige man, is Vrydag in Schoemansdal (Nkomazi) in hegtenis geneem.
Hillary is Dinsdag dood in bosse 45 km buite Mbombela gevind deur verbygangers wat op pad werk toe was.
Bronne: Times LIVE, IOL
Volg FiND iT hier.
Lees ook: ANC-lede probeer glo Hillary Gardee-moordverdagte verdedig



