‘n Veteraan-amateurrugbykaptein het saam met al sy sewe seuns in ‘n laaste rugbywedstryd gespeel voor hy uitgetree het.
Mike Ireland, die Heaton Moor-rugbykaptein wat ook agt dogters het, het die laaste wedstryd as ‘n “absolute fantasiese dag” beskryf.
Ireland (56) van Stockport sê hy het gewag met sy uittrede tot sy laaste seun ook 18 jaar oud was sodat hy vir ‘n laaste keer saam met al sy seuns kon rugby speel.
Ireland het as kind nooit sport beoefen nie en het eers op die ouderdom van 41 saam met sy seuns begin rugby speel.
“Deur die jare het ek baie wedstryde gespeel vir die Mighty Threes, soos ons die span noem, en ek het al saam met een of twee, drie of miskien vier van my seuns gespeel, maar nooit saam met almal nie.”
Die klub het getwiet: “Die foto waarvoor almal gewag het. Mike Ireland en sy sewe seuns wat ons skrum opgemaak het in sy uittreewedstryd. Dis ‘n eerste, ‘n ongeloofike ding om as klub deel van te wees.” – BBC



