Die 16-jarige Corna Slabbert wat verlede week uit ‘n kinderhuis op Ermelo weggeloop het, is Woensdagoggend gevind, maar toe sy Donderdagoggend moes skool toe gaan, is sy weer saam met dieselfde drie maats weg, sê haar ma.
Haar ma, Erenscha Slabbert, sê Corna is saam met die drie maats gevind saam met wie sy verlede week weggeloop het.
“Hulle was by een van die maats se familielede en het die naweek daar deurgebring. Hulle is na die kinderhuis teruggebring, maar toe hulle Donderdagmiddag ná skool nie na die kinderhuis teruggekeer het nie, het hulle ontdek dat hul skoolboeke in die kas gelos is,” sê sy.
Sy sê ook Corna se tannie het deurgery om met haar te gaan praat, maar dat sy toegang geweier is by die Hildebrandt-kinderhuis omdat dit na 19:00 was.
Erencha sê sy het nie self met Corna gepraat na sy gevind is nie, maar dat ‘n welsynwerker in die komende week met haar sou gaan praat oor haar verdwyning.
Erenscha kan nie veel uitbrei oor waarom Corna in die kinderhuis woon nie, maar noem vlugtig dat daar aantygings van molestering teen haar verloofde gemaak is en ook ander aantygings teen haar familie.
“Die kinderhof het besluit dat sy in die kinderhuis moet bly.”
Indien jy Corna iewers gewaar of iets weet van haar verdwyning, kontak Erenscha by 073 486 5043.



