’n Polisiebeampte wat nie aan diens was nie, is na bewering Woensdagmiddag tydens ’n kapingsvoorval in die omgewing van Glenwood doodgeskiet.
Kyle van Reenen, Emer-G-Med-woordvoerder, het gesê hul paramedici, Netcare 911 en die Suid-Afrikaanse Polisiediens het omstreeks 14:15 op die toneel van ‘n skietvoorval buite ‘n laerskool in Bulwerweg in Glenwood gereageer.
“Berigte van die toneel is dat ‘n man van ongeveer 45 jaar oud op die sypaadjie gevind is met noodlottige skietwonde,” het Van Reenen gesê. “Hy is dood verklaar ná die aankoms van paramedici.”
Van Reenen het gesê daar word geglo dat die skietery met ‘n kapingsvoorval verbind word, maar geen amptelike verklaring is nog gemaak nie.
Volgens die Facebook-blad Action Bulletproof was ao Michael Jameson besig om sy dogter by die skool op te laai en het ‘n kaping gesien. Hy het ingegryp en is doodgeskiet. Die voorval het buite sy dogter se skool plaasgevind.
eThekwini Secure se Zain Soosiwala het gesê daar word beweer dat ‘n polisiebeampte wat nie aan diens was nie, in die voorval dood is.
Soosiwala het gesê die verdagtes het in ‘n Mercedes-Benz vasgery, maar het ook ‘n Nissan NP200 gekaap en dit toe vir ‘n ander gekaapte voertuig, ‘n Ford EcoSport, laat vaar.
“Hulle is op vrye voet in die Hammarsdale-omgewing,” het Soosiwala gesê. “Hulle het nog ’n voertuig gekaap.”
Bronne: IOL, News24
Volg FiND iT hier.
Lees ook: Meisie (8) oorleef keel wat gesny word



