’n Agtjarige meisie van Mamelodi-Oos het oorleef na haar ma se kêrel glo haar keel gesny het na ‘n argument tussen hom en die meisie se ma.
Volgens inwoners het die 8-jarige se geskreeu die aandag van haar ouma en bure getrek, wat tot haar redding gekom het.
Haar pa, wat geweier het om geïdentifiseer te word omdat hy die meisie se identiteit wou beskerm, het gesê hy het ‘n oproep ontvang van haar ma, wat by die Mamelodi-daghospitaal was en histeries gehuil het.
“Sy het vir my gesê my dogter is met ‘n mes aangeval en is kritiek in die hospitaal. Ek het na die hospitaal gehaas en met my aankoms het ek my dogter op ‘n draagbaar gekry, en sy kon nie praat nie. Sy het hierdie groot wond aan haar nek gehad, ’n mens kon duidelik sien hulle het haar keel probeer afsny.”
Hy het gesê hy sou eers later uitvind wat gebeur het. “Al die fokus was op my dogter. Dit was later toe ek die familie ontmoet het dat ek die volle storie gekry het,” het hy gesê.
‘n 31-jarige man van Afdeling A in Mamelodi-Oos is in hegtenis geneem en het sy eerste verskyning in die Mamelodi-landdroshof op ‘n aanklag van poging tot moord gemaak.
Volgens die polisie is die man en die ma in ‘n verhouding.
“Daar word beweer dat die paar op 24 April na ‘n begrafnis gegaan het waar ‘n argument tussen hulle uitgebreek het,” het die polisie gesê.
“Die volgende dag, terwyl die ma na ‘n nabygeleë motorwassery gegaan het, het die beskuldigde na die huis gegaan waar sy gebly het om dinge te probeer uitwerk.”
Hy het die meisie by haar ouma gekry. Daar word beweer dat die beskuldigde ‘n slagtersmes wat hy in die kombuis gekry het gevat het en die kind se keel probeer afsny het.
“Die ma van die slagoffer het die gille van haar dogter gehoor en huis toe gehaas.”
Die beskuldigde is in hegtenis geneem nadat hy homself by die Hammanskraal-polisiestasie oorgegee het. Hy sal Donderdag om borgtog aansoek doen.
Bronne: MSN, Pressreader
Volg FiND iT hier.
Lees ook: 30 jaar om gay wiskundige se moordenaar te arresteer



