30 jaar om gay wiskundige se moordenaar te arresteer

Deel hierdie storie / Share this story

Drie dekades nadat die Amerikaanse wiskundige Scott Johnson se lyk by die basis van kranse in Sydney gevind is, is sy moordenaar tronkstraf opgelê.

Scott White is Dinsdag tot ‘n maksimum van 12 jaar en sewe maande tronkstraf gevonnis vir die destydse moord op die 27-jarige Johnson.

Ondersoekers het Johnson se dood aanvanklik as selfdood hanteer, iets wat sy familie nooit geglo het nie.

Hulle het jare lank daarvoor geveg dat die Australiese polisie dit eerder as ‘n gay-haatmisdaad ondersoek.

Dinsdag het ‘n regter bevind daar is nie genoeg bewyse om vas te stel dat dit ‘n gay-haatmisdaad was nie, maar het White tot tronkstraf gevonnis vir die moord in 1988. Hy sal in 2030 vir parool in aanmerking kom.

White – wat 18 was ten tyde van die moord – het nie getuienis in die hof gelewer nie, maar het aan die polisie gesê hy en Johnson het in Desember 1988 by ‘n kroeg ontmoet.

Die hof het gehoor die twee het na North Head Cliffs in Manly gegaan – ‘n bekende terrein wat deur gays besoek is – waar hulle volgens White baklei en dr. Johnson geval het.

‘n Regter het egter bevind dat White dr. Johnson sonder uitlokking geslaan het, wetende dat dit heel waarskynlik die wiskundige na sy dood sou laat val.

Die polisiemag het die familie voorheen om verskoning gevra omdat hulle die saak nie behoorlik in die 1980’s ondersoek het nie en versuim het om die gay gemeenskap te beskerm.

Bronne: BBC, Brisbane Times

Volg FiND iT hier.

Lees ook: 75 mense beseer in KZN bus ongeluk