Agt verdagtes is in Limpopo in hegtenis geneem in verband met die brutale moord van ‘n vrou wat glo ‘n geldskieter (loan shark) was.
Volgens die Limpopo-polisiewoordvoerder, luitenant-kolonel Mamphaswa Seabi, is die vrou omtrent 22:00 op 11 April vermoor.
“Die polisie het ‘n klag ontvang oor ‘n vigilante voorval waarin ‘n skare van plan was om die huis van ‘n 37-jarige vrou te verbrand wat glo ‘n geldskieter (algemeen bekend as ‘n loan shark of mashonisa) is,” het Seabi gesê.
“Die polisie het na die toneel gehaas en ontdek dat die skare die slagoffer aan haar motorvoertuig vasgebind en na die bosse gesleep het. Die skare het toe begin om die polisie met klippe te gooi terwyl hulle na die slagoffer probeer soek het.”
Seabi het gesê die skare is uiteen gejaag en die polisie het daarin geslaag om die slagoffer te red. Die vrou is vasgebind en met ‘n motorvoertuig tussen die dorpies Salema en Xikundu gesleep.
“Daarna het die skare die slagoffer se huis afgebrand en ‘n Toyota-motorvoertuig beskadig, albei ter waarde van R200 000. Die slagoffer is later na die Malamulele-hospitaal geneem, maar sy het aan haar beserings beswyk met aankoms,” het Seabi gesê.
Die slagoffer is deur die polisie geïdentifiseer as Basani Portia Shuma van die dorpie Salema.
“Sy is glo deur die skare daarvan beskuldig dat sy verantwoordelik was vir die verdwyning van ‘n plaaslike man wat na bewering twee weke gelede voor die voorval vermis geraak het,” het Seabi gesê.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het gesê die agt sal na verwagting binnekort in die Saselamani-landdroshof verskyn op aanklagte van moord, openbare geweld, brandstigting en opsetlike saakbeskadiging.
Bronne: Daily Mirror, IOL
Volg FiND iT hier.
Lees ook: Limpopo-boer skiet glo paartjie na hy hulle ‘met seekoeie verwar’



