Hier is ‘n bobaasresep vir brownies. As jy een van daai draadklitsers het, gebruik hom. Andersins sal ‘n houtlepel werk – dit gaan net ‘n bietjie meer moeite verg.
Bestanddele
85 g botter
200 g donker sjokolade, fyn gekap
150 ml suiker
5 ml vanielje
2 groot eiers, kamertemperatuur
55 ml meel
225 ml neute (okker-, pekan- of haselneute of amandels) gerooster en grof gekap
Metode:
Om neute te rooster: Verhit die oond tot 180° grade. Gooi die neute in ‘n oondpan en bak in die oond vir so 10 – 15 minute totdat hulle begin geurig ruik. Haal uit die oond en laat afkoel.
Hou die oond aan op 180° grade. Voer ‘n 20-cm vierkantige bak met bakpapier uit. Laat die papier bokant die kante van die bak uitsteek. Spuit die papier met Spray-n-Cook.
Smelt die botter in ‘n kastrol oor matige hitte. Voeg die sjokolade by en klits met die hand totdat die sjokolade gesmelt is.
Haal die kastrol van die stoof af, voeg die suiker en vanielje by en klits saam.
Klits die eiers een op ‘n slag by.
Voeg nou die meel by en klits totdat die beslag glad en glansig lyk. Dit sal so 1 – 2 minute neem.
Roer die neute by.
Gooi die beslag in die bak en plaas in die oond. Bak vir 25 – 30 minute totdat die middel amper geset is. Moenie langer as 30 minute bak nie – dit sal die brownies uitdroog.
Verkoel die brownies op ‘n draadrakkie. Gebruik die kante van die papier om die brownies uit die bak te lig.
Sny in blokkies en geniet!



