Casper Bosman: Mode-ontwerp, lewe, passie

Deel hierdie storie / Share this story

Casper Bosman, bekende mode-ontwerper van Bloemfontein, gesels met ons oor sy handelsmerk, die bekende gesigte vir wie hy al ontwerpe gedoen het en die lekkerste en ook die uitdagendste deel van wat hy doen.

Casper vertel hy het in 2007 van die Kaap na Bloemfontein verhuis en homself én sy handelsmerk in die Rosestad gevestig. “Ek geniet Bloemfontein vreeslik, want dit bied ‘n kleindorpie-gevoel en die mense hier is altyd so vriendelik en bereid om te help!”

Casper vertel hy is van kleintyd af baie kreatief en die modewêreld het nog altyd sy belangstelling geprikkel. “My ma het my ook altyd aangemoedig om iets te skep, en so het my liefde daarvoor gegroei.”

Casper vertel oor sy besluit om hom in Bloemfontein te vestig. “Ek wou my handelsmerk met die fokus op sentraal Suid-Afrika vestig. Die mark vir nuwe ontwerpers in Kaapstad en Johannesburg was uitgeput. Dus het dit vir my sin gemaak om in Bloemfontein my naam te kom bou.”

Casper se span bestaan uit sewe persone wat verskillende afdelings van sy besigheid bestuur. “Ons het ‘n afdeling vir kliëntediens, admin, ‘beading’, ‘sewing’ en ‘patterns’.

Casper, wat ‘n diploma in mode-ontwerp en tegnologie verwerf het aan die Pretoria Technikon, vertel hy het al die voorreg gehad om met baie bekende en interessante persoonlikhede te werk.

“My ontwerpe is al gedra deur mense soos Rolene Strauss, Demi-Leigh Nel-Peters, Melinda Bam, Claudia Henkel, Tatum Keshwar, Liesl Laurie, Pearl Thusi, DJ Zinhle en Thando Thabethe, om net ‘n paar te noem.”

Die jare in die bedryf het vir Casper soveel goeie herinneringe daarmee saam. “Daar is soveel mooi rokke en goeie herinneringe wat my altyd sal bybly!”

Hy vertel van die uitdagende modebedryf wat altyd propvol nuwe giere en ‘n vloei van inspirasie is. “Ek glo dat ek heeltyd besig is is om te verbeter op van my vorige ontwerpe – dit maak dit moeilik om ‘n gunstelingontwerp te kies!”

Die feit dat daar in die modebedryf altyd iets nuuts en interessants gebeur, is vir Casper die lekkerste deel van sy werk. “En dit is so met elke kliënt en projek – of dit vir ‘n skoonheidskoningin of ‘n bekende persoon vir die rooi tapyt is.”

“Daar is nooit ontwerpe of idees wat hulleself herhaal nie.”

Wanneer Casper nie besig is om sy kliënte op hulle beste te laat lyk nie, geniet hy dit om ‘n bietjie stoom af te blaas in die gim. “Oefen is vir my baie belangrik. Ek glo ‘n mens moet ‘n balans handhaaf tussen werk en ontspanning. As ek nie in die gimnasium is nie, kuier ek saam met my naaste vriende.”

Casper sê as hy een ding in die wêreld kon verander, sou dit die manier wees waarop mense sosiale media sien. “Baie mense lewe vir die vals realiteit wat deur sosiale media geskep word.”

“Ek sou graag wou hê dat mense meer kwaliteittyd saam spandeer en in die oomblik lewe.”

Sy raad aan ander jong, opkomende mode-ontwerpers is om nié op net een veld van mode te fokus nie. “Brei eerder uit in dagdrag, aanddrag, juwele of bykomstighede. Só verseker jy altyd jou plekkie in die mark.”