Die 37-jarige Patrick Paumen het nie ’n selfoon of ’n bankkaart nodig om vir sy kruideniersware te betaal nie.Hy hou bloot sy hand naby die kaartmasjien om met die mikroskyfie in sy hand te betaal.
Paumen, ’n sekuriteitswag van Nederland, het in 2019 die mikroskyfie in sy hand onder sy vel laat inplant en hy beskryf die gevoel soortgelyk aan “wanneer iemand jou knyp”.
BBC berig die eerste mikroskyfie is in 1988 in ‘n mens ingeplant, maar dat tegnologie die laaste ruk eers so gevorder het dat ons dit vandag kan gebruik.
Walletmor, ’n Britse maatskappy, is ook sedert 2021 die eerste maatskappy wat die mikroskyfies verkoop.
“Die mikroskyfie kan gebruik word om ’n drankie op ’n strand in Rio te betaal, ’n koffie in New York, ’n haarafspraak in Parys, of kruideniersware by jou plaaslike winkel,” sê Wojtek Paprota, stigter en hoof- uitvoerende beampte van Walletmor.
Die mikroskyfie weeg minder as ’n gram en is net ’n klein bietjie groter as ’n ryskorrel. – BBC



