Len Cloete, die man wat verlede jaar deur die polisie geskiet is na ’n onderonsie by ’n lodge in Muldersdrift, is volgens The South African nou weer in die intensiewesorgeenheid opgeneem.
In ‘n plasing wat sy vrou op Facebook gemaak het, het sy gesê Cloete is met “ammonia” in die hospitaal opgeneem, maar die plasing is intussen verwyder. Sy sê nou in ‘n nuwe plasing Cloete het longontsteking.
Cloete (59) is in November deur ’n polisiebeampte in die kop geskiet en was vir bykans twee maande in ’n rehabilitasiesentrum nadat hy na ’n maand in ’n koma sy bewussyn herwin het.
Cloete het tydens die onderonsie ’n polisielid se dienspistool afgeneem waarna ’n ander lid hom geskiet het. ’n Video van die voorval is wyd op sosiale media gedeel.
Lees ook: Brakpan-moorde: ‘Hy het hul liggame daar sien lê’
Cloete is nou glo weer in die hospitaal opgeneem en sy vrou, Chantal Cloete, het op sosiale media gesê haar grootste vrees is om in haar kinders se oë te kyk en te sien hoeveel hulle Cloete mis.
“Die waarheid is, daardie aand was angswekkend. Om jou man in jou arms vas te hou terwyl hy bloei van ’n skietwond aan sy kop. En al wat jy kan sien, is jou tweejarige wat in die gees langs jou staan en vra of hy sonder sy pa gaan grootword.”
In ’n groep wat op Facebook na die skietery gestig is, bespreek van die groep se lede Chantal se lewe en ook Cloete se vordering in die hospitaal. In ’n onlangse plasing is ’n foto van Chantal saam met een van Cloete se vriende.
Chantal spreek ook in die plasing die geskinder aan en sê: “Ja, julle maak my huil en ja, julle breek my hart met julle woorde. Maar ek hoef my vriende nie aan hulle te verduidelik nie. Ek sorg vir my man. My hele lewe gaan oor my kinders en oor my man.”
Bron: The South African, Lovable Vibes



