Dis al byna drie jaar sedert Sandra Schwarts (39) en haar drie kinders, Sheree (19), Leë-Ann (16) en hulle boetie, Simeon (10) wreed in hulle huis in Brakpan vermoor is.
Die gesin is een vir een met ’n vuurwapen afgemaai voor hulle huis aan die brand gesteek is.
Netwerk24 berig hier oor hoe die moordhuis na die moord gelyk het en deel ook foto’s van die grafiese moordtoneel.
Johan Schwarts, Sandra se man, het glo die middag na werk op sy gesin afgekom. Die vermoede was destyds dat Sandra haar kinders en toe haarself met Johan se vuurwapen doodgeskiet het, maar latere ondersoek dui dat die gesin vermoor is.
Angelique Joubert, wat die dag van die moorde op die toneel was en gehelp het om die gesin se brandende meubels uit die huis te dra, vertel wat sy van daardie dag in Julie onthou.
Sy vertel sy en haar man, wat verlede jaar oorlede is, het aan die agterkant, twee huise van die huis af, van die gesin se huis gewoon.
“Ek en my man het gaan inkopies doen en ons was besig om die vleispakkies op te maak toe ons skielik hoor hoe ’n man skree. Hy het baie erg gegil en geskree vir hulp. My man het na die heining toe gehardloop om te gaan kyk wat aangaan.”
Sy vertel haar man het in die kar geklim en haar oom het saamgery om te gaan help. “Toe hulle by die huis kom, toe staan Johan buite. Hy wou nie hê my man-hulle moes by die huis ingaan nie en hy wou heeltyd lugtyd hê. Dit was snaaks, want my man was daar om te help.”
Lees ook: LGBTQIA+-gemeenskap woedend oor Steve se bestialiteit-uitlating
Sy vertel hulle kon sien die huis is aan die brand en hy wou heeltyd ingaan. “Toe my man uiteindelik ingaan, kon hy regs van die voordeur die gesin se liggame daar sien lê.”
Joubert vertel haar man het na die kamer, waar die brand ontstaan het, gegaan en begin om die bed en meubels wat aan die brand was, uit te dra. Haar oom het in die sitkamer gesien die gesin is geskiet en het die geweer langs hulle liggame gewaar.
Sy vertel sy en haar man het Sandra se gesin nie persoonlik geken nie.
Joubert sê die gebeurtenis het ’n groot impak op haar en haar man se lewens gehad. “Daar was soveel nagte wat ons nie kon slaap nie wat ons gelê en gesels het daaroor. Dit het ons geweldig baie gepla, maar met tyd het dit beter geraak.
Joubert se dis hartseer dat niemand nog in hegtenis geneem is nie en dat die ou vervalle, vaal huis nou so mooi opgeknap en goedversorgd lyk.



