Tante van vermoorde Jacques Pretorius praat

Deel hierdie storie / Share this story

“Ons moet seker vergewe, maar ons sal nooit kan vergeet nie.” Só sê Leonie Pretorius, die tante van die 16-jarige Jacques Pretorius wat in 2008 met ‘n samoeraiswaard vermoor is.

Morné Harmse (nou 32) het in 2009 skuld erken vir die moord op Jacques en poging tot moord van drie ander wat dié dag by die Hoër Tegniese Skool Nic Diederichs in Krugersdorp was.

Harmse is op 3 Maart op parool vrygelaat ná hy 14 jaar van sy vonnis uitgedien het. Hy sou eers in 2029 vrygelaat word.

Leonie onthou die verskriklike dag as “iets soos uit ‘n fliek”. “Dit was 07:45 die oggend toe ons die oproep gekry het dat Jacques dood is. Ek het in my wildste drome nooit gedink dit is wat gebeur het nie. Dalk ‘n motorongeluk of ‘n motor wat hom omgery het. Dit was eers toe ons by die skool aangekom het wat ons gehoor het hy is met ‘n swaard doodgemaak. Dit was soos iets uit ‘n fliek.”

Jacques sou vanjaar op 15 Januarie sy 30ste verjaardag vier. “Sestien jaar is al wat ons gehad het. En dis eintlik niks. Hy was ‘n kind,” sê Leonie.

Oor die vraag of Jacques se familie Harmse ooit sal vergewe vir die gruwelike daad, sê Leonie dat sy nie eintlik kan antwoord nie. “Ons moet seker vergewe, maar ons sal nooit kan vergeet nie.”

Leonie sê om nou, ná Harmse se vrylating, die gebeurtenis te herleef, is vir die familie baie ontstellend.

Sy sê Harmse se vrylating is tog ‘n skok vir die familie. “Ons het dit seker verwag, maar dit bly steeds ‘n skok.”

Leonie vertel die familie was in 2019 by Harmse se paroolverhoor. “Persoonlik dink ek nie dat hy sedertdien gerehabiliteer kan wees nie. By dié verhoor het ons verslae gehoor wat sê dat hy (Harmse) nie aan die rehabilitasieprogramme deelneem nie, dat hy probeer selfmoord pleeg het en dat hy dwelms gebruik het.

Sy sê sy en die familie het geen kontak met Harmse se ouers of die ander slagoffers gehad nie.

Die seer is egter steeds vir die familie ‘n realiteit. “Die seer raak deel van jou lewenswyse. ‘n Pa en ma moet nooit hulle eie kind begrawe nie. Hy is vermoor en nou loop sy moordenaar skotvry daarbuite rond. Dis ‘n bitter pil om te sluk.”

Volg FiND iT hier op Facebook.

Lees ook: Vyf verdrink tydens ritueel in rivier