Bronne binne die presidensie het aan AfriNuus bevestig dat die koronavirusbevelsraad Maandag 14 Maart 2022 sal vergader oor die jongste verwikkelinge rakende die koronavirusinperkingsmaatreëls.
Hoewel dit nog nie bekend is of die staat van inperking in geheel opgehef sal word nie, sal talle maatreëls na verwagting opgehef word.
Die ministers in elkeen van die departemente moes vandeesweek nuwe regulasies opstel, wat na verwagting die rampoestand sal vervang.
Die departement van gesondheid en ministeriële advieskomitee het klaar uitgelap dat die dra van maskers in die buitelug geskrap sal word en die minister van samewerkende regering en tradisionele sake het gesuggereer dat byeenkomste vergroot sal word.
Dit is egter nie duidelik of die nasionale staat van inperking in geheel opgehef sal word, en of net sommige maatreëls opgehef sal word nie.
“Dit is maar ‘n kopseer, maar president Cyril Ramaphosa sal Maandag met dié raad byeenkom, die nuwe regulasies ter tafel lê en die nasie na verwagting dan later toespreek,” het ‘n bron in die presidensie gesê.
Die nasionale ramptoestand sal na verwagting op 15 Maart geskrap word, sou dit nie verleng word nie.



