André Pienaar binnekort weer in hof, bydraes benodig vir regsfonds

Deel hierdie storie / Share this story

Dit gaan goed met André Pienaar, die boer wat in Oktober 2020 in hegtenis geneem is oor die optogte wat ná die Senekal-moorde plaasgevind het.

Genevieve de Jager, ‘n vriendin van die vermoorde Brendin Horner en ook André, sê sy saak sal op 24 en 25 Maart in die hof voorkom.

“Dit gaan goed met hom. Die uitspraak lê maar soos ‘n berg voor hom, want ons weet nie wat dit gaan wees nie. Hy is die pa van twee kinders en die broodwinner in sy gesin,” sê De Jager. “Maar ons bly positief. Ons is positief.”

Die 21-jarige plaasbestuurder Brendin Horner is in 2020 wreed op ‘n plaas vermoor. Sy pa het die volgende oggend op sy liggaam afgekom.

Groot woede het die dag by die hof geheers toe die twee moordbeskuldigdes in die Horner-saak vir die eerste keer in die hof verskyn het.

Pienaar is daarna in hegtenis geneem na hy beskuldig is van sy betrokkenheid by die optogte.

Pienaar is aanvanklik borgtog geweier en moes die hooggeregshof nader waar hy borgtog van R15 000 gekry het.

Willem Petzer, ‘n aktivis teen plaasmoorde, het ook ‘n groot aandeel in die fondse wat tot dusver ingesamel is. Hy het in November ‘n fonds gestig om die regskostes te dek.

“Ek gaan alles in my vermoë doen om vir André Pienaar te help,” het Petzer in ‘n vorige Facebook-plasing gesê.

De Jager sê daar word steeds fondse benodig vir die regsproses en enige hulp of bydrae sal waardeer word.

As jy voel jy wil help of ‘n bydrae lewer tot Pienaar se regsfonds, kontak vir De Jager by 073 361 1387.