Twee vas na skietery by begrafnis

Deel hierdie storie / Share this story

Twee verdagtes is in hegtenis geneem na daar Saterdag ‘n skietery tussen die verdagtes en die polisie by ‘n begrafnis uitgebreek het.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê ‘n span van die polisie het Klaas Motswadira, ‘n slagoffer wat verlede week geskiet is, se begrafnis gemonitor.

Ongeveer 600 mense het die begrafnis bygewoon en tydens die verrigtinge by die begraafplaas het van die mense wat die begrafnis bygewoon het, in die lug in begin skiet. Niemand is in die voorval beseer nie.

“Toe die konvooi die begraafplaas verlaat het en op pad huis toe was, het dieselfde persone weer skote in die lug afgevuur en is deur lede van die National Intervention Unit raakgesien,” sê Mohlala. “Die lede het hulle probeer keer, maar die verdagtes het op hulle begin skiet. ‘n Jaagtog het plaasgevind en die verdagtes het beheer oor hulle voertuig verloor.”

Die verdagtes het teen die muur by Siyabuswa E vasgery.

Mohlala sê die eienaar van die muur het ook klagtes teen die bestuurder gemaak.

Die voertuig is deursoek en een pistool met ‘n afgevylde reeksnommer en ‘n leë magasyn is in die motor gevind.

Die voertuig, ‘n Ford Ranger Wildtrack, en die vuurwapen is gekonfiskeer. Mohlala sê die vuurwapen sal ondersoek word om vas te stel of dit by ander misdade gebruik is.

Die 40-jarige en 36-jarige verdagtes sal Maandag in die Mdutjana-landdroshof verskyn.