Die polisie het Donderdag twee mense in hegtenis geneem na ‘n tweede sekuriteitswag tydens die stakings by Clover dood is.
“Die slagoffer is glo met onder meer klippe bestook terwyl drie ander sekuriteitswagte beserings opgedoen het,” sê kol. Dimakatso Sello, polisiewoordvoerder.
Sy sê die twee verdagtes wat in hegtenis geneem is, onderskeidelik 33 en 47 jaar oud, sal op aanklag van moord in die hof verskyn.
Clover het die voorval bevestig en gesê ongeveer 150 werkers het in drie busse daar opgedaag en probeer toegang kry tot die Clayville-eiendom. Sekuriteitswagte het ingegryp.
Sekuriteitswagte is glo met gewere, klippe, knuppels en ander wapens aangeval en het met rubberkoeëls gereageer.
“Vanoggend (Donderdag) het werkers wat staak, ‘n sekuriteitswag doodgemaak en twee ander beseer,” sê die maatskappy in ‘n verklaring. “Die voorval het by Clayville plaasgevind. Hierdie is die tweede sekuriteitswag wat vermoor is, die eerste was Tsephe Molatsi, wat op 22 Januarie deur werkers wat staak doodgemaak is.”
Clover sê hy het beeldmateriaal van die sekuriteitswagte wat aangeval en doodgemaak word. Dié materiaal is aan die polisie oorhandig en sal aan die publiek bekendgemaak word sodra die polisie goedkeuring gee.
Clover sê ook hy sal weens veiligheidsrisiko’s nie die hospitaal se naam gee waar die beseerde wagte behandel word nie.



