Die 22-jarige Ashley Oosthuizen is nou in Thailand lewenslange tronkstraf opgelê vir ’n misdaad wat sy volgens vriende en familie nie gepleeg het nie.
Ashley, oorspronklik van George in Suid-Afrika, is sedert 2020 in aanhouding na sy geteken het vir ’n pakkie wat dwelms bevat het. Volgens ’n verklaring van haar destydse kêrel, Tristan Nettles, was hy die een wat die dwelms vervoer het en eintlik daarvoor moes teken. Toe hy landuit was en nie die pakkie kon ontvang nie, het hy dit by sy restaurant waar Ashley gewerk het, laat aflewer.
Oosthuizen het by Hot in The Biscuit gewerk en so het sy, sonder dat sy besef het, geteken vir die pakkie. Minute later is sy in hegtenis geneem en sedertdien is sy in aanhouding.

Tristan het intussen ’n webblad begin en ’n verklaring uitgereik waarin hy 100% skuld erken en sê dat Ashley nie die skuldige is nie.
In die verklaring sê Tristan dat hy al van ’n jong ouderdom af ’n misdaadrekord het en dat alhoewel hy by een van die groot internasionale skole in Thailand gewerk het, hy meeste van sy geld gemaak het deur dwelms te smokkel en te verkoop.
“Ashley se enigste misdaad was om my meisie te wees. Die res is alles my skuld en ook ander se skuld wat die waarheid wil wegsteek.”
’n Webblad, Free Ashley, is nou ook gestig omdat vriende en familie Ashley se storie wil vertel en haar hopelik help.

“Sedert 2020 het haar vriende en familie al minder van haar gehoor. Sy is na ’n groter tronk geskuif en was in isolasie weens Covid-19. Sy word nie meer toegelaat om briewe te stuur of te ontvang nie en sy kry slegs twee oproepe per jaar.”
Lees Tristan se skuldbekenning hier.
Lees ook: ‘Hy probeer, maar dis moeilik’ – Kyle se vordering na diagnose



