Swendelaar doen hom voor as motorhandelaar

Deel hierdie storie / Share this story

’n Motorhandelaar in Kimberley is raadop nadat kopers by sy onderneming, wat tweedehandse motors verkoop, opdaag op soek na die voertuie waarvoor hulle reeds betaal het en of ‘n deposito betaal het om die voertuig se koop te verseker.

Christo Muller, eienaar van Auto Excellence, het die laaste paar maande met skok verneem dat ’n swendelaar sy onderneming se adres gebruik om voornemende kopers te lok om deposito’s op goedkoop motors te betaal, net om dan met ’n skok te verneem dat hulle ’n rat voor die oë gedraai is.


FiND iT het Vrydag self met ene “Markus”, ’n belangrike gesprek gehad rakende ’n Hyundai I10 wat op ene “Empire Auto Sales” in Kimberley te koop aangebied word.

Na aanleiding van FiND iT se gesprek kon Markus vir ons die voertuig hou, mits FiND iT ’n deposito van R12 500, dis 50% van die spotgoedkoop voertuig, betaal.

Markus het ons ook probeer oorreed om die betaling aan hom te stuur as bevestiging. Die voertuig kon dan by “Empire Auto Sales” gaan haal word. Auto Excellence, die regte handelaar se adres, is dan gegee vir besigtiging.


Muller noem, buiten die feit dat honderde mense hulle kosbare geld so verloor, is die kopers vir hom kwaad of vermoed hy kan dalk betrokke wees by die skelm transaksie.


Muller wil die publiek waarsku teen enige persoon wat voertuie onder markwaarde verkoop. “Maak seker die handelaar is welbekend. Doen spesiale navrae oor die voertuig, die verkoper en of die maatskappy wel bestaan. Daar bestaan nie ’n ding soos ’n voertuig ver onder markwaarde nie. Die oomblik as jy op so ’n ‘winskopie’ afkom en dit klink dalk te goed om te glo, kan jy maar weet daar is fout.”


Auto Excellence wil dit duidelik maak dat hulle geen belange by Empire Auto Sales het nie en betwyfel of daar wel so ’n besigheid bestaan.


Indien jy tans besig is met so transaksie sal Muller jou afraai om enige geld oor te betaal voordat jy die kar nie self besigtig, die geloofwaardigheid van die handelaar kan bevestig en vorige verwysings van die verkoper het nie.


Die sake is tans by die SAPS geregistreer.