‘Demoniese besetting’ by hoërskool in Kimberley het ouers op hol

Deel hierdie storie / Share this story

Die Noord-Kaapse departement van onderwys wag op ‘n verslag oor die situasie wat vandag by Hoërskool St. Boniface geheers het.

Video’s van leerlinge wat glo deur demone beset is, is op sosiale media versprei. Die skool het vandag vroeg toegemaak.

“In hierdie stadium is dit nog onduidelik wat presies gebeur het en ons doen ‘n beroep op die algemene publiek om kalm te bly en geen vals gerugte oor die situasie te versprei nie,” sê Geoffrey van der Merwe, woordvoerder vir die departement.

“Al wat ons weet, is dat die skool ‘n boodskap aan ouers uitgereik het wat aandui dat leerders vandag by die skool ineengestort/geval het. Die departement probeer vasstel wat presies vandag by hierdie skool gebeur of voorgekom het, en sal Maandag 14 Februarie 2022 ‘n verklaring oor hierdie aangeleentheid uitreik.”