Olivia Sieff: verdagte in hof vandag

Deel hierdie storie / Share this story

’n Vrou (33) van Wynberg verskyn vandag in die Wynberg-landdroshof nadat sy in hegtenis geneem is aangaande die tref-en-trap wat die dood van Olivia Sieff Sondag in die vroeë oggendure buite Tin Roof in Claremont veroorsaak het.

Luitenant-kolonel Marnus Fourie, Vispol-hoof van Claremont-polisiestasie, sê beamptes het op ‘n klag gereageer toe hulle die 18-jarige model dood op die toneel in Hoofweg gevind het. Die bestuurder van die motor wat met die slagoffer gebots het, was nie op die toneel nie.

Die polisie se ’n saak van strafbare manslag en die verlaat van die ongelukstoneel is geopen.

Nadat beeldmateriaal van die plaaslike kringtelevisie verkry is, kon die betrokke motor geïdentifiseer word.  Die voertuig is op Dinsdag 1 Februarie opgespoor. Die bestuurder is in hegtenis geneem en as ‘n verdagte by Claremont-polisiestasie aangehou. Die arrestasie is gesamentlik deur Claremont-speurders en Stad Kaapstad se wetstoepassingslede gemaak.

Forensiese toetse is op die voertuig gedoen nadat beslag op die voertuig gelê is.

Op Donderdag 3 Februarie is die verdagte aangekla van strafbare manslag en die verlaat van die ongelukstoneel sonder om die ongeluk aan te meld.

“As Claremont-polisie wil ons graag ons meegevoel aan die familie betuig. Ons is bewus daarvan dat die gesin deur ‘n rouproses gaan en versoek dat hulle die privaatheid en geleentheid gegun word om die tragiese verlies van ‘n geliefde te verwerk. Ons het aangebied om die slagoffer se familie te beraad en ons het deur die hele ondersoek met die familiewoordvoerder in kontak gebly en hulle op hoogte gehou,” sê Fourie.

Hy doen ‘n beroep op alle persone om te alle tye waaksaam te bly wanneer hulle ‘n besige pad oorsteek.