Die 70-jarige Lydia van Wyk (Aunty Lettie), is vandag amptelik ‘n week vermis na sy verlede Woensdag die huis verlaat het om na haar dogter te soek.
Mariam Veerus, Lydia se dogter, het in ‘n vorige onderhoud gesê sy was op Calvinia vir opleiding toe haar ma vermis geraak het. “Ons woon op Sutherland,” het sy gesê. “Ek was vir die dag op Calvinia en my man sê my ma het gevra waar ek is. Toe sy hoor Calvinia, wou sy my vermoedelik gaan soek het. Ons het haar nog nie weer gesien nie.”
Mariam sê haar ma is baie verward en dat hulle bekommerd is oor haar. “Sy het glad nie ‘n selfoon nie, daarom kon ons nog nie met haar kontak maak nie. Ons het haar intussen as vermis aangemeld en die polisie is tans ook op soek na haar.”
Mariam sê die Upington-polisie se soek-en-reddingspan kon Lydia se spore van langs die rivier tot by die pad optel, maar dat hulle vermoed dat sy ‘n rygeleentheid gekry het.
Die polisie het intussen in ‘n plasing op Facebook die gemeenskap gevra om te help om Lydia op te spoor.
As jy haar raakloop of enigiets weet, skakel Mariam by 072 612 2773.



