Tekort aan geld, hongerpyne en sy pa se selfdood stuit Joshwin nie

Deel hierdie storie / Share this story

Die 24-jarige Joshwin Sampson, wat soms tydens sy universiteitsjare met net water in sy maag moes gaan slaap, is vandag ‘n digter, kortverhaalskrywer, joernalis en ook gekwalifiseerde Afrikaans-onderwyser.

Sampson, wat in 2015 aan die Hoërskool George op George gematrikuleer het, gesels met ons oor sy lang en moeilike pad tot waar hy vandag is.

Ná matriek het hy kommunikasiekunde aan die Universiteit van die Vrystaat gaan studeer en ook in 2019 sy honneursgraad in kommunikasiekunde verwerf.

Hy vertel in 2016, in sy eerste jaar by die universiteit, was dit vir hom baie moeilik. “Ek het nie ‘n beurs gehad of vir ‘n studielening gekwalifiseer nie. My ouers kon my ook nie finansieel ondersteun nie, want alhoewel hulle albei gewerk het, het ons van salaristjek tot sakaristjek geleef. Soms kon ons selfs nie die basiese behoeftes in ons huis bekostig nie.”

Sampson vertel sy ouers moes verskeie lenings aangaan by vriende en familie sodat hy ten minste die registrasiefooi van R13 000 by die universiteit kon betaal. “My pa wou graag hê dat ek gaan studeer en hy wou nie hê dat ek ‘n jaar afvat nie. Hy wou ‘n verpleër word, maar daar het iets in sy matriekjaar gebeur wat verhoed het dat hy dit kon doen. Hy het raakgesien ek het die potensiaal om dit te doen en te bereik wat hy nie kon nie.”

Ná Sampson sy registrasiefooi kon betaal, het die moeilike deel van sy studentejare begin. “Ek kon nie handboeke bekostig nie, want een handboek was meer as R500 en ek moes van onvolledige notas af leer vir toetse en eksamens,” vertel hy.

“Elke maand het ek omtrent R500 van die huis af gekry wat vir kruideniersware, toiletware en ook om van my take te druk, gebruik moes word. As my kos begin opraak het, moes ek water drink om die hongerpyne te stil, want ek kon nie huis toe bel nie. My ouers was kniediep in die skuld en kon nie vir my geld stuur nie. Selfs ‘n R20 of ‘n R50 was te veel, want hulle het self finansieel gesukkel by die huis.”

Sampson vertel hy het in die koshuis gebly. “Elkeen was verantwoordelik vir sy eie etes wat ons in ‘n gemeenskaplike kombuis kon voorberei.”

Sampson sê hy was nie regtig vriende met een van sy kamermaats nie en dat hy maar meeste van sy tyd by die biblioteek op kampus of by die rekenaars deurgebring het. “Dit het my gedagtes van alles afgehaal. Die uitdagendste deel was om voor te gee dat ek oukei is en ek was nie, want ek’t gesukkel om met alles te ‘cope’ – my persoonlike lewe en my studies. Niemand het geweet waardeur ek gaan nie, want ek’t altyd ‘n glimlag op my gesig gehad en nie my emosies op my mou gedra nie, maar sodra ek in my kamer gekom het of gaan stort het, het alles my oorweldig.”

Sampson se gunstelingherinnering uit sy kinderdae was toe hy en sy gesin almal saam na flieks gekyk het. “Dit was altyd al my pa se gunstelingflieks. Hy was mal oor Afrikaanse flieks. Dit was ‘n baie lekker bonding-sessie, veral omdat dit nie so gereeld gebeur het as wat ‘n mens wou hê dit moes gebeur nie. Ek en hy het eers baie geheg geraak twee jaar voor sy dood.”

Sampson se pa was baie trots op sy prestasies. “Van elke jaar se prysuitdeling op laer- en hoërskool, tot my verkiesing as hoofseun op laerskool, tot my matriekuitslae in 2015 toe ek matriek met 3 A’s en ‘n 70%+ gemiddelde geslaag het, tot die dag wat ek universiteit toe is, selfs sonder ‘n beurs of enige ander finansiële bystand, was hy baie trots op my.

“Sy grootste droom was om my te sien gradueer, omdat hy nie verder kon gaan leer nie.”

Sampson vertel toe hy op die randjie was om by die universiteit uitgeskop te word oor agterstallige studenteskuld, het sy pa sy eie lewe geneem.

“Hy het vir jare met depressie geworstel en menige vorige selfmoordpogings gehad. My gesukkel op universiteit het aan hom gevreet,. Hy het fisies siek begin raak, sy werk verloor en dit was die grootste ‘blow’ vir hom, want ons gesin kon nie bekostig om net van my ma se karige salaris te leef nie.”

Sampson se pa het homself op 16 Desember gehang, ‘n week na Sampson terug was by die huis vir die Desembervakansie. “Ek kon hom nog sien voor sy dood. Hy het geglo as sy polisse uitbetaal, ek my studies die volgende jaar sou kon voortsit en daar genoeg geld sou wees om my studies klaar te maak. Hy het homself opgeoffer.”

Sampson sê juis om dié rede moes hy hulde aan sy pa bring deur in sy grade-toga na sy graf te gaan “om vir hom te sê sy opoffering was nie tevergeefs nie”.

Sampson het in rekordtyd graad gevang en was die eerste persoon in sy gesin met ‘n graad agter sy naam. “Dit het my baie emosioneel gemaak, want ek sou liewer wou hê my pa moes fisies lang my staan en deel in my vreugde. In óns vreugde.”

Joshwin, wat nog altyd baie lief was vir tale en skryf, het na sy honneursjaar in 2020 by Netwerk24 ‘n internskap gaan doen. Daarna het hy vir sy nagraadse sertifikaat in onderwys gaan studeer en hy doen ook tans ‘n internskap by Kuier-tydskrif.

In sy vrye tyd kyk Joshwin graag na dokumentêre oor misdaad. Hy skryf ook graag in sy vrye tyd kortverhale, rubrieke en gedigte en sê selfs al word dit nie vir ‘n spesifieke publikasie geskryf nie, hou hy dit byderhand tot hy dit kan gebruik.

“Niks wat die moeite werd is, is maklik om te bereik nie, maar as jy die lewe jou druk, moenie jouself bejammer deur in ‘n hoekie te sit en krepeer nie. DRUK TERUG!”

Volg FiND iT hier op Facebook.

Lees ook: ‘Bekeer jou as jy na Meatloaf se musiek geluister het,’ sê Rooies Strauss