Carli (26) verloor kankerstryd

“Die diagnose het my lewe so baie verander.”

Carli (26) verloor kankerstryd

Carli (26) verloor kankerstryd

Carli van Aswegen (26) wat met ‘n baie skaars, ongeneeslike breinstamkanker gediagnoseer is en in die laaste fase van haar lewe haar eie begrafnis gereël het, is oorlede.

Carli het vir 26 jaar lank in Bloemfontein gewoon en het die laaste tyd, na haar diagnose, saam met haar skoonfamilie, Lulu en Wouter van Aswegen, Anne en Pieter Smith, en haar man, Daniel, gewoon. Sy het ook ‘n seuntjie, Micah (3).

Daniel het haar tuis versorg.

Carli is in September 2020 met die skaars siekte gediagnoseer. Sy het in ‘n vorige onderhoud met FiND iT met ons gesels oor hoe haar tipiese dag lyk, die behandeling wat sy sedert haar diagnose ontvang het, en hoe bly dit haar gemaak het dat sy haar eie begrafnisreëlings kon tref.

“Die diagnose het my lewe so baie verander. Ek kan nie begin om dit te verduidelik nie,” het sy tydens die onderhoud gesê. “‘Mentally’ voel ek sommer ouer. Fisies was ek nog nooit so swak in my lewe nie. Ek is so afgekraak.” Dit was duidelik aan Carli se stem dat die diagnose haar diep emosioneel raak. “Dis vir my so seer.”

Lees die vorige berig hier.

Haar boodskap aan ander kankerlyers, was met tye van die onderhoud:

“Jou stryd is jóúne. Al het ons presies dieselfde kanker op presies dieselfde plek, weet ek nie waar jy in jou lewe of met jou familie is nie. Vat die liefde, gooi weg die snert en hou op luister na ander mense.”

FiND iT het by Lulu van Aswegen navraag gedoen, maar sal in ‘n latere stadium terugvoer ontvang.

Volg FiND iT hier op Facebook.

Leave a Reply

Your email address will not be published.