As jy vandag in die Wes-Kaap is, hoe voel jy? Die Wes-Kaap is moontlik vandag die warmste plek ter wêreld!
Ventusky, ‘n weervoorspellings-app, wat gebruik word om temperature te voorspel, maak van kleure gebruik om die temperature in verskeie dele van die wêreld te voorspel. Op die kaart het dit Vrydag geblyk asof daar geen donkerder area as die Wes-Kaap is nie, berig The South African.
Temperature van meer as 40°C kan vir vandag in sommige dele van die streek verwag word, terwyl die Boland en omliggende dorpe soos die Paarl, Franschhoek en Stellenbosch temperature van meer as 44°C kan ervaar.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n erge hitte-/hittegolf-waarskuwing uitgereik en gesê inwoners kan ‘n “baie warm naweek” verwag.
Hier is ‘n paar wenke sodat jy die hitte kan baasraak:
- Bly goed gehidreer deur sommer lekker baie water te drink. Hou ook ‘n ogie op babas, kinders en ouer persone en maak seker hulle bly ook gehidreer.
- Bly weg van direkte sonlig. As jy wel buitentoe gaan, maak seker jy dra gepaste klere (soos lospassende, liggewig klere) en wend sonskermroom aan.
- Beperk jou buitelugaktiwiteite en maak seker jy rus as jy wel aan iets buite deelneem.
- Moenie jou oond gebruik nie. Dit sal net meer hitte in jou huis veroorsaak.
- Maak seker jou troeteldiere het ‘n plekkie in die koelte en ook genoeg water.
Volg FiND iT hier op Facebook.
Lees ook: Matrikulant in die kop geskiet toe hy wag vir uitslae



