‘n Drukkie vir ‘n beertjie. Ek kan hoor!

Deel hierdie storie / Share this story

(Van links: Carin Taute, skoolhoof, Elize Els en Eureka Pottas, voorsitter van die Hekel en Klets Klub)

Carel du Toit Spesiale Skool in Bloemfontein, ‘n skool vir gehoorgestremde leerlinge, se projek om gehoorsiftingstoetse op pasgebore babatjies te doen, het in die laaste paar jaar vreeslik gegroei.

Carin Taute, hoof by die skool, vertel die Witherow Trust het in 2017 ‘n OAE-masjien geborg sodat hulle pasgebore babatjies by die Nasionale Hospitaal kon laat toets. “Om die ouers te ‘oorreed’ om hulle babatjies te bring, het elke babatjie ‘n gebreide beertjie na die siftingstoets ontvang,” sê Carin. “Vrywilligers het die beertjies vir ons gebrei.”

Carin vertel hoe dié projek van daar af net gegroei het. “Tans gaan ons oudioloog elke Woensdag na die ma-en-baba-kliniek by MUCPP. Elke week word daar gemiddeld 25 kinders onder die ouderdom van vyf jaar se gehoor getoets – dus benodig ons 25 beertjies per week.”

Die Hekel en Klets Klub van Bloemfontein skenk gereeld beertjies aan die skool om aan die kinders uit te deel.

“Ons is baie dankbaar vir vrywilligers wat bereid is om hulle tyd op te offer om beertjies te brei en ons help om van hierdie projek ‘n sukses te maak. Al hierdie siftingstoetse word gratis gedoen. Kinders met ‘n moontlike gehoorverlies word na Pelonomi se oudiologie-departement verwys waar Julia Jensen, die hoof van oudiologie en die spraakafdeling, baie nou met ons saamwerk.”

“Ons by Carel du Toit glo ‘charity begins at home’! Ons wil hier in Bloemfontein ‘n verskil maak. Dit is ons droom dat elke liewe kindjie ‘n regverdige kans in die lewe sal kry. En dat hy sal kan hoor!”

“WATCH OUT WORLD, HEAR I COME!”

‘n Babatjie se gehoor kan reeds op 24 uur na geboorte getoets word. Aangesien dit nie as ‘n reël in die staatshospitale gedoen word nie, en baie kinders eers laat met ‘n gehoorverlies gediagnoseer word, het Carel du Toit in 2017 ‘n besluit geneem dat ons daadwerklik ‘n poging gaan aanwend om gehoorverlies by kinders vroeër te identifiseer. Hoe vroeër kinders met ‘n gehoorverlies geïdentifiseer word (verkieslik nie later as op drie jaar nie), hoe groter is die kans dat hulle taal gaan ontwikkel.