Soektog na 16-jarige Annelize duur voort

Deel hierdie storie / Share this story

Die 16-jarige Annelize Roos is sedert steeds 19 Desember vermis.

FiND iT het voorheen berig Annelize se familie is rasend van bekommernis oor haar.

Annelize is om 08:00 die oggend van 19 Desember laas by haar huis in Amanzimtoti naby Doon Heights Primary gesien.

‘n Bron na aan die familie het voorheen aan FiND iT vertel Annelize, wat ‘n baie teruggetrokke kind is, het onlangs as kelnerin begin werk. “Ons het haar aangemoedig om daar te begin werk, juis omdat sy so teruggetrokke is. Ons weet nie of sy moontlik daar vriende ontmoet het saam met wie sy nou is nie. Toe ons haar baas bel om te hoor of hy iets weet, het hy gesê sy het skielik bedank.”

Volgens die bron is Annelize weg met haar tandeborsel en van haar klere. “Sy is dus uit vrye wil hier weg en ons vermoed nie dat sy ontvoer is nie.”

Haar selfoon is sedert die oggend van 19 Desember afgeskakel en dus kan hulle haar nie só opspoor nie.

Die bron het gesê Annelize het ‘n rooi hemp en ‘n blou denim aangehad toe sy laas gesien is. “Sy het swart hare met pers op die punte. Sy het blou oë, is slank gebou en is om en by 1.68m lank. Sy het oorbelle in beide ore en ook ‘n naeltjiering.”

Indien jy Annelize iewers gewaar of iets weet van haar verdwyning, kontak haar pa, Francois Roos, by 082 502 9107.