‘Sal jy met my trou?’, 17 jaar later

Deel hierdie storie / Share this story

Colleen en Callie Brits het hulle huweliksherdenking dié jaar op ‘n baie spesiale manier gevier.

Dié egpaar is al vir 17 jaar getroud. Colleen (41) wou Callie op ‘n unieke manier verras deur ‘n ring aan sy vinger te glip op die dag wat hulle 17 jaar gelede verloof geraak het.

Colleen en Callie (42) het mekaar op Wesselsbron ontmoet. Colleen giggel soos sy vertel van hoe hulle twee mekaar ontmoet het.

“Ek is in 2001 na Wesselsbron verplaas. Ek het in die finansiële afdeling by die maatskappy gewerk en ek moes mense bel wie se bankrekeninge oortrokke was met bankkostes.” Sy vertel sy moes toe met twee Callie’s praat. “Dit was die eerste keer wat ek hom gesien het. My hart het sommer so gebons toe ek hom die eerste keer gesien het! Hy het nie veel gepraat nie, sommer net sy kop ja of nee geskud.”

Toe Colleen later ‘n DVD gaan uitneem, het sy besef hierdie rooi karretjie agtervolg haar. “Ek het die vrou by die DVD-winkel gevra wie die mannetjie is wat my so agtervolg. Ek’t vir hom ‘n SMS gestuur en gevra wat hy wou hê.”

Só het Colleen en Callie vir die eerste keer saam koffie gedrink. “Hy het daardie aand seker 10 koppies koffie gedrink, want hy wou nie huis toe gaan nie!”

Dié was in Augustus. September daardie jaar het Callie Colleen gevra of sy sy meisie sou wees en op Oukersaand het hy haar gevra om te trou.

Die egpaar het drie kinders, Carli (15), Charné (12) en Cara-leigh (11). Hulle het die afgelope 17 jaar se huweliksherdenkings maar spesiaal probeer maak deur spesiale etes te hou of sommer net deur blommetjies of briefies vir mekaar te wys hoe lief hulle mekaar nog het.

Dié jaar het Colleen met ‘n oulike idee vorendag gekom. Sy wou vir Callie ‘n spesiale ring, wat hy graag wou hê, gee. “Ek het dit nie eintlik beplan nie, maar ek was so opgewonde om dit vir hom te gee. Ons het toe sommer net daar in die sitkamer die selfoon opgestel vir ‘n video en so het ék hóm, 17 jaar later, gevra om met my te trou.”