Gewigsoefeninge die “in ding” vir 2022

Deel hierdie storie / Share this story

Is ‘n gereelde besoek aan die gimnasium een van jou Nuwejaarsvoornemes? Hier is goeie nuus! Jy hoef nie die hele dag in die gimnasium deur te bring om gewig te verloor nie. ‘n Goeie eet- én oefenprogram, wat hoofsaaklik uit gewigsoefeninge (‘weight training’) plaasvind, is al wat jy nodig het.

Micheal Vosloo, ‘n persoonlike afrigter by Taaiseun Personal Training Studio, gesels met ons oor hoekom gewigsoefeninge dié gang is om te gaan in 2022.

“Ons as mense wil alles gewoonlik so vinnig en so maklik as moontlik laat gebeur,” vertel Micheal. “Om ‘n gesonder en sterker liggaam te bekom, is ongelukkig nie ‘n maklike en vinnige ding nie. ‘n Gesonde liggaam kom nie uit ‘n pil, ‘n poeier of ‘n koffie nie.”

Micheal sê 90% van die mense wat hy afrig, het gewoonlik nie tyd nie. “Wanneer jy nie tyd het nie, is fietsry, draf en aanhoudende kardiovaskulêre oefeninge een van die goed wat jy nie doen nie. Jy bly nie op daardie manier in beheer nie, want hoe fikser jy raak, hoe verder kan jy gaan en hoe langer neem dit jou liggaam om moeg te raak.”

Daarom sê Micheal gewigsoefeninge is die beste. “Aan die begin is jou liggaam seer en moeg, maar soos wat jy daarmee aanhou, begin jy later in beheer raak van jou liggaam. Soos wat jy sterker raak, kan jy jou liggaam verder uitdaag deur met swaarder gewigte te oefen.”

Micheal sê dat dié oefenprogram natuurlik gepaard gaan met ‘n gesonde en gebalanseerde dieet. “Ons is nie onfiks omdat ons nie ‘n gimnasiumkontrak het nie, ons is onfiks as gevolg van ons leefstyl.”

Micheal gee ‘n paar voordele van gewigsoefeninge.

“Dit bevorder selfdissipline. Dit smeer dan absoluut af in jou werksplek, in jou verhoudings met ander mense. Jou respek teenoor mense en teenoor jouself verbeter ook. Dis ‘n lewensstylverandering. Jy voel beter, jy lyk beter, jy raak sterker. Dit gaan nie altyd oor hoeveel gewig jy verloor nie.”

As jy ‘n beginner is, stel Micheal voor dat jy professionele hulp kry. Hy sê baie mense stap by die gimnasium in en het nie regtig ‘n idee van watter tipe oefeninge om te doen nie. “Veral die jongspan. Jong mans wat begin oefen, stap by die gimnasium in en wil dadelik die grootste gewigte begin gebruik. Ek sê altyd die grootste gewig sonder die regte bewegings en manier van oefen, beteken niks. ‘n Kleiner gewig met die regte aksies en repetisies doen al die werk.”

Werk dus vir jou ‘n program met al die regte oefeninge en repetisies uit en raak so die beste weergawe van jouself!