Die 17-jarige tienerseun van Kakamas in die Noord-Kaap wat Dinsdag verdwyn het toe hy saam met ‘n vriendin in die Oranjerivier gaan swem het, is steeds nie gevind nie.
Kapt. Nelis Prins, polisiewoordvoerder, het aan FiND iT bevestig die Kimberley-polisie se soek-en-reddingspan, die Upington-polisie en boere in die omgewing se soektog duur voort.
Prins sê daar word hommeltuie en ‘n vastevlerkvliegtuig gebruik om na die seun te soek.
“Die 17-jarige seun en ‘n vriendin van hom het in die Oranjerivier gaan swem. Omstreeks 16:50 het hy net in die water verdwyn,” sê Prins.
Die voorval het in Swartbooisberg in Kakamas plaasgevind.
Prins sê die polisie is bekommerd oor die stygende rivier wat die pogings om die seun op te spoor, moeiliker en gevaarliker maak.
FiND iT hou jou op hoogte.



